Lynnwood Oord het sy ontstaan te danke aan 'n inisiatief geloods deur die NG Kerk Lynnwood. Reeds in 1976 besef die kerkraad dat daar 'n behoefte aan 'n outehuis/aftreë oord in Lynnwood bestaan. Op 28 Junie word opdrag gegee en 'n kommissie tot stand gebring, wat die saak deeglik sou ondersoek. Die Kommissie sou bekend staan as: "Die Kommissie vir die tuiste van gegoede bejaardes". Die sameroeper van hierdie Kommissie is ouderling H.B. Marais.
Die eerste moontlikheid was die Hotel Kronendal wat in die mark te koop was vir 2 Miljoen Rand. Dit was na verdere ondersoek van die hand gewys aangesien dit nie prakties sou wees om oor gemeente grense saam te werk nie.
Vele van Lynnwood inwoners se ouers het elders gewoon en wou graag nader hulle kinders bly. As gevolg van hulle hoë inkomste het hulle egter nie gekwalifiseer vir ander gesubsidieerde tehuise in die stad nie. Indien hulle wel kwalifiseer was die waglyste so lank dat hulle nie net opgeneem kon word nie. Aangesien beskikbare persele steeds skaarser en duurder word, keur die kerkraad goed dat 'n tuiste vir bejaardes opgerig kan word. Talle parke in Lynnwood is identifiseer wat geskik sou kon wees vir so 'n projek. Die Kommissie verneem toe egter dat die Stadsraad nie bereid sou wees om sulke eiendomme te vervreem nie.
Op 21 Junie 1978 ontvang die kommissie 'n aanbod van ene F.F Kossuth om sy eiendom bekend as “River House” aan die kerkraad te verkoop vir R230,000. Die aanbod word egter afgekeur aangesien dit te veel van die gemeente sou verwag om te ontwikkel. Die volgende keuse het geval op Erf 757 Lynnwood wat bekend gestaan het as Strubenpark. Die Stadsraad is ingelig dat indien hulle die eiendom sou vervreem hulle te vinde sou wees vir die oprigting van 'n “Tuiste vir Bejaardes”.
Op 31 Augustus 1981 word die kerkraad meegedeel, dat ondanks besware, die gedeelte bekend as Strubenpark, groot 2,2 ha van erf 757 gesluit sou word en dat die NG Gemeente Lynnwood, die koste daarvan sou dra. Die sluiting sloer egter lank en die sluiting van Strubenpark word eers op 28 Maart 1984 goedgekeur. Ondanks vele besware teen die sluiting van strubenpark en die oprigting van 'n "Outehuis" aldaar, gee die destydse Administrateur van Transvaal die groen lig hiervoor op 27 Augustus 1984.
Die kompleks sou 120 mense kon huisves.
- 40 in huise/woonstelle
- 40 in kamers en
- 40 in die verpleegafdeling.
Eers gedurende Mei 1986 word die kommissie meegedeel dat die park hersoneer is vir die oprigting van 'n “Outehuis”. Die here storie van Lynnwood Oord se totstandkoming word so bekend gestel in die Citizen van 29 Mei 1986: “NGK home for the aged approved in Pretoria”. “The home has been in the pipeline for the past 6 years after original objections to it's erection on Strubenkop were overruled by the Administrator.”
Tien jaar na die aanvanklike ondersoek na die moontlike oprigting van 'n "Tuiste vir Bejaardes", is goedkeuring verkry om met die projek voort te gaan. Die Tuiste vir Bejaardes word 'n realiteit!